WiX Omsendbrief

Posted on Feb 18, 2014 in Blog, WiX

 Liewe Ouers

Hierdie kwartaal het met ‘n slag begin en vakansie is amper al weer om die draai! Ons is opgewonde oor die kwartaal se program en wil u graag op hoogte hou van die aktiwiteite wat ons beplan.

vissersEerstens het ons weer ‘n “Visvang-dag” die 2de Maart. Dit beteken elke kind kan ‘n maat of maatjies bring wat verkieslik nie Sondae in ‘n kerk of Sondagskool kom nie.  Ons wil die maters wys dat dit lekker is om die Here te dien. Om die dag meer interessant te maak moet elke kind aantrek soos die letter waarmee hy/sy naam begin.  Bv. Deon kan aantrek soos ‘n donkie, ‘n dinosaurus of selfs koning Dawid. Dis regtig nie verpligtend nie en moet asseblief nie ‘n fortuin gaan spandeer om vir u kind ‘n kostuum te koop nie. Ons gaan ook ‘n spesiale kunswerk maak, wat die kinders gewoonlik baie geniet.

Tweedens het ons ‘n span ingeskryf vir die CANSA Relay op 28 & 29 Maart. Een van die vereistes is dat ons span almal dieselfde lyk vir die optog. Daarvoor  is ons besig om t-hempde en golf-hempde  te reel.  Die t-hempde kan die kinders Sondae ook kerk toe aantrek. Indien u nog nie u bestelling geplaas het nie, sal ons dit waardeer indien u dit voor 28 Februarie kan doen. Verdere reëlings tov die Relay sal later aan u deur gegee word.

Geliewe asseblief bogemelde datums in u dagboek aan te teken.

Dit is vir ons as kinderkerk-span ‘n voorreg om elke kind te kan bedien en hulle meer van God te leer.  Ons wil ook dankie sê vir elke ouer wat hulle kind(ers) aan ons toevertrou. Ek glo ons is ‘n wenspan!

Groetnis

WiX KINDERKERK